Book blurb:
Breyten Breytenbach word plaaslik en wêreldwyd geag as ’n invloedryke skrywer en kritiese denker. Parool / Parole is ’n keur van sy toesprake wat steeds literêre, politieke en filosofiese vure aansteek.
Elke redevoering, wat tussen 1968 en 2015 in Afrikaans en Engels by verskeie geleenthede regoor die wêreld gelewer is, skakel historiese momente in die ontwikkeling van die Afrikaanse en Suid-Afrikaanse letterkunde met sleuteloomblikke in Breytenbach se loopbaan en lewe. So staan sy toespraak by die Sestiger-somerskool in 1979 uit as ’n waterskeidingsmoment vir Afrikaanse skrywers se benadering tot sosiale betrokkenheid in hul werk. In sy Rapportprys-aanvaardingstoespraak in 1986 konfronteer Breytenbach Afrikaners kaalvuis oor hul instandhouding van ’n apartheid-polisiestaat. En wie sal Breytenbach se pleidooi in die Paleis van Justisie in 1975, waar hy hom wend tot die regter wat hom uiteindelik tronk toe sou stuur op aanklag van terrorisme, kan vergeet? Die onlangse huldeblyk by André P. Brink se gedenkdiens in Kaapstad bevestig weer eens die skrywer se verbintenis tot sy ambag en hoe ’n sin vir moraliteit sy kreatiewe uitset omraam.
Die toesprake in Parool / Parole, waarvan heelwat nog nie voorheen gepubliseer is nie, verskaf waardevolle insigte in die intellektuele wêreld van ’n grensverskuiwende woordkunstenaar.